http://bloubloggie.wordpress.com/2011/05/05/my-eie-persoonlike-privaat-retraite
Soms is werktoe ry die enigste retreat in weke en moet mens maar selfs die plattelandse paaie met skape – grotes en nuwes – gebruik om balans terug te kry van hoe nuwe lewe regtig moontlik is.
Ander dae is die beesmis-neusbrand die oomblik wat jou weer trugbring na die realiteit van hoe jy nie ALLES buite jou bewuswees kan hou nie – al probeer jy ook hoe hard om die reuke uit te blok.
Sekere seisoene kan jy heel onseker voel op die pad wanneer die wolke so laag oor jou kar kom hang dat jy selfs jou geel ligte se geluid heeltyd in jou ore duld tik-tak-tik-tak, maar jy weet dis AL manier wat jy iemand anders kan keer om te na aan jou te kom waar almal kan seerkry.
Ander tye van die jaar voel jy weer so klein as jou eie kar wegraak tussen stadige, groot wiele wat oestyd vier terwyl jy net wil jaag na die dag se deadlines.
Maar op die oomblik is die mooiste retreat-dae-potensiaal… Wanneer jy wegry uit jou safe space in die donker waar jy ten minste ‘n halfuur moet wag voor jy kan SIEN wat jy WEET – die son wat eers stadig agter die berge opkruip en dan skielik amper verblindend uitglip sodat jy WEET: daar is ALTYD weer ‘n nuwe dag.
Met nuwe kanse, nuwe woorde en nuwe moontlikhede…
Ek dink ek is elke dag bevoorreg om soggens ‘n uur retreat te kan he…